22-24 Oktober: Santiago na Finisterre / Muxia

Na ń heerlike dag van rus, pak ek en Johan die baaie mooi roete na Finisterre aan. Ons het meer as genoeg tyd en besluit om dit rustig oor 4 dae te versprei.

Die hele gevoel van die Camino is anders toe ons die oggend vroeg in die pad val. Daar is skielik heelwat meer pelgrims as waaraan ons gewoond was op die Via de la Plata. Ek kan nie meer sommer net piepie waar ek wil nie!! Ook voel ek en Johan asof ons met vakansie is. Die ‘druk’ om by Santiago in een stuk uit te kom, is verby en vir ons is dit net ń rustige, gemaklike stap. Ons sakke is ook ietwat ligter, want ons het van ons onnodige goedjies in die hostel waarin ons weer gaan slaap voor ons terugreis na Namibië, gelos. En Johan het ń huppel in sy stap!! Sy been vir die eerste keer in ń paar dae glad nie meer seer nie! Ek moet behoorlik hardloop om by te bly!!

Die stap is pragtig en ons geniet elke treë daarvan. Ons is nogal verbaas dat ń groot gedeelte van die roete op harde grond is. Ons het regtig min op harde pad gestap na Santiago en ons voete voél die verskil!

Die albergues is bietjie duurder as dié waarin ons gewoond geraak het, veral op die laaste gedeelte voor ons Santiago bereik het. (€6 vs €10-12). Ons bly egter in baie mooi plekke en ons vind die kos heerlik!!

Twee van die dae is laang dae, maar die weer is perfek. Heerlike sonnige warm weer en ons tweetjies is gelukkig, tevrede, lig en vol liefde…

La vida est bueno!

Ons slaap die eerste aand in Negreira in ń privaat albergue saam met ń hele paar pelgrims. Ons was al ons klere en nuttig ń heel skaflike ete in die kafee onder die albergue. Die volgende aand slaap ons in ń pragtige albergue Monte Aro in Lago. Dit was ń moeilike en lang stap, maar verruklik mooi – hoog oor die Aro berg. Ons kry elkeen twee spierwit vars en gestrykte lakens asook ń heerlike duvet. Elke bed het sy eie liggie, ń rakkie waarop ń selfoon neergesit en gelaai kan word en ń eie toesluit kas! Luuksheid weerteen ń vyfster hotel moeilik meeding as mens ń pelgrim is! Die ete die aand is ook heerlik – nie geskoei op die tipiese menu vir pelgrims nie en ons geniet die verblyf daar besonders baie. Ons ontmoet ook nuwe interessante mense!

Nog 61,9 km na Finisterre, die einde van die wêreld!
So gereeld soos ons kan, trek ons skoene uit en pootje baaien ons, soos die Hollanders sê!
Gereeld stop ons en eet ń vruggie of een van die lekker Soaanse koeke!
Die pad skei hier – Finisterre of Muxia – beide so 26km ver. Ons gaan links na Finisterre.
Michael en Hans van Duitsland. Eersgenoemde twee stap al vir omtrent 4 maande van Konstanz af. Hulle dra alles saam – tente, slaapsakke, eetgerei, stofies, gas, kos ens ens. Die pragtigste jong mans. Ek stap lank saam met Sven en Michael en kan nie ophou luister na al hul ervarings nie.

Na nog ń baie lang dag, slaap ons die derde aand in Corcubion, net verby Cee. Ons sien ook hierdie dag die eerste keer die see en ons is opgewonde soos kinders. Die dae is besonders mooi en helder en dit lyk idillies! Ons is reeds besig om ons goedjies in die albergue uit te pak, toe die hospitalerio daar instap. Hy vertel ons dat hy ook ń pension baie naby die albergue besit en vir 3 Euro per persoon meer, kry ons ons eie kamer en ontbyt ingesluit. Vat nie baie om ons twee oorreed te kry nie en soos jy sê ‘mes’ is ons weer opgepak en hardloop omtrent agter die man aan na sy baaie pragtige pension met die mooiste uitsig op die see!! Na sewe weke van snorke en poepe en allerhande geluide is dit ń absolute bederf as ons ons eie kamer het!

Dit was nie ek of Johan wat dit op die teerpad geskryf het nie!
Toevallig dit gesien toe ons daar verbygestap!!

Die laaste dag na Finisterre is nie so lank nie en ons begin ń bietjie later. Die eerste uitsig op Finisterre was asemrowend en ons was ekstaties!! Ons neem veels te veel fotos! Na al my stappe na Santiago, was dit die heel eerste keer dat ek na Finisterre stap en ek was so bly ek het dit gedoen! Wat ń besondere einde aan my en Johan se ver stap deur Spanje. Ons harte loop oor van dankbaarheid, van nederigheid, van geseëndheid.

Soos die gebruik is, trek ons ons skoene uit en stap kaalvoet oor die groot strand voor Finisterre en tel die bekende Camino skulpies op.
Oppad na Cabo de Fisterre – die einde van die wêreld
Net nog 2,5 km nadat ons al meer as 1100km afgelê het!
Hierdie km aanwysers het al begin verskyn toe ons Galicia ingestap het. Hierdie een wys 0.00km. Geen verdere pad om te stap nie!
ń Laaste klippie vir die gesin, vir dankbaarheid, vir genade, vir samesyn,
‘n GROOT dankie vir God – word gepak…
Dankie Liewe Jesus…

Ons het reeds ń dag of twee vantevore besluit dat Finisterre ons laaste stapdag sal wees en ons was nog nie een keer spyt daaroor nie.

Ons stap die 3km na die eindpunt van die wêreld en die traantjies lóóp. Dankie ons Almagtige Vader vir genade so wyd soos U asemrowende hemel en aarde. Dankie vir hierdie gedeelde ervaring en samesyn. Ons woorde ontbreek… dankie dankie!!

Prentjiemooi
Die bottel wyn ‘n integrale en belangrike deel van al ons etes….

Ons neem die laaste dag ń bus na Muxia, nóg ń prentjiemooi dorpie teen die Atlantiese oseean. Ons dwaal ń paar ure daar rond, eet ń héérlike pelgrims menu en neem ń bus terug na Santiago.

Ek wil afsluit met die volgende foto – my dankbaarheid en liefde vir my lewensmaat van amper 39 jaar, met wie ek beskore en bevoorreg was om hierdie lewensveranderde roete te kon doen. Dankie Schatz vir jou liefde, jou geduld, jou omgee, jou saamstap. Ek kan soveel meer sê, maar jy wéét!!

19 Oktober: Santiago de Compostela

Dankie aan Liezel vir hierdie aanhaling

Gister was ń baie emosionele en besondere dag. Dit was my vierde keer dat ek Santiago ingestap het, Johan se derde keer. Dit was egter die eerste keer dat Johan die hele pad saamgestap het en vir my was dit soveel meer kosbaar as gevolg daarvan.

Dit was vir ons ń BAIE groot skok om by die katedraal op te daag en die massas pelgrims te sien! Die Via de la Plata was soo ń rustige roete. Ons was nooit meer as 12 pelgrims in enige albergue nie, meestal net so 5 of 6. Gister op ons 20 km na Santiago het ons weer eens slegs één ander pelgrim op ons roete gesien.

Na die fotosessies het ons ń Duitse en Portugese vriend ontmoet vir ń bier.

Eduardo en Guenter

Ons ontmoet later die middag vir John en Aurora wat ń ‘apartment’ deur AirBNB in die middel van Santiago gehuur het. ń Prágtige groot en ruim plek. Ons skink Clava vonkelwyn (die Spaanse weergawe van sjampanje) en vier ons vriendskap en die feit dat ons die lang roete voltooi het. Ons gaan eet later uit in ń baie mooi restaurant met baaaie mooi pryse. Ek en Johan steier toe ons die pryse sien, maar ons eet en drink maar saam. Definitief NIE ń peregrino menu nie en verseker ook nie een wat ń doodgewone pelgrim (soos ons!) se sak pas nie!Die ete is heerlik, ons klets aanmekaar en dis baaie laat toe ons uiteindelik mekaar groet en huiswaarts keer. Ons klim doodmoeg in die bed. Vandag het ons die pelgrims mis in die katedraal bygewoon. Dit was baie mooi en enosioneel met ń koor wat ń paar liedere gesing het. Die katedraal was gepak en baie pelgrims moes staan omdat daar nie genoeg sitplek was nie. Dit gebeur blykbaar elke dag!!

Wat baie spesiaal is, is as die botafumeiro wat wierook inhet, aan die brand gesteek word en deur die katedraal geswaai word. Dit gebeur egter net op Sondae en spesiale dae – en blykbaar ook as daar groepe mense/pelgrims is wat vooraf reël en betaal dat dit gedoen word. Vandag is dit nie gedoen nie. Ons vriend Philippe het dit egter laasweek ervaar en ek voeg die video wat hy geneem het, interessantheidshalwe by.

Vanmiddag het ons vir Inge en haar man Joost ontmoet vir ete. Gelukkig is hierdie ete weer ń pelgrims menu en heel bekostigbaar!

Die vriendskappe wat op hierdie roetes gemaak word, is baie uniek en baie intens. Ek het nou nog kontak met pelgrims wat ek al in 2007 op my eerste Camino ontmoet het. Ons maak ook vriende met heelwat jonger mense.

Johan en Joost, ek en Inge in die spieël se weerkaatsing!Ons loop ook die omie van 86 raak!!
Hy het ook sy Camino voltooi. Soo inspirerend!

Ook kry ons die gesin van Alaska. Die dogtertjie is soo bly om vir my te sien en sy spring in my arms en lag die heeltyd hardop!! Dit laat my sooo na my kleintjies verlang!!

Ons is baie rustig vanaand. Môre begin ons stap na Finisterre!!

Liefde in oorvloed 💜

Ek wou net nog graag iets met julle deel.  Voor ons begin stap het en reëlings begin tref het rakende vliegkaartjies, verblyf (vir visa aansoek) ens, het ek besluit ek gaan vir ons in die Parador (‘n pragtige 5-ster hotel wat ‘n klooster was baie lank gelede en reg langs die katedraal is) bespreek.  My motivering?  Na so ‘n lang afstand, verdien ek en Johan om onsself te bederf…  ‘n Week gelede praat ek en Johan hieroor en ons besluit gesamentlik dat ons NIKS ‘verdien’ nie.  Die feit dat ons gesond genoeg was om so ver te kon stap, dat ons dit saam met mekaar kon doen, die kosbare ervaring wat ons kon deel, die mooi mense en pragtige natuur…   Dit alles het ons met ‘n diep innige dankbaarheid gelos en ons het SO baie uit hierdie gedeelde ervaring gekry en om te sê ons ‘verdien’ iets, klink so leeg en betekenisloos.  Ons bly toe in ‘n pragtige hostel met ‘n kleinerige kamertjie maar met linne op die bed, handdoeke, ‘n kas om ons twee hempies in op te hang – en ‘n silwerskoon badkamer verder af in die gang met ‘n stort EN ‘n bad – en ons voel soos konings.  Nie eens ‘n Parador gaan ons beter laat voel nie.  Ek kanseleer ons bespreking by die Parador (gratis op Booking.com!) en dis soos ‘n klip wat van my skouers afrol…..  Ek is SOO gelukkig en tevrede en ek verlang NIKS meer nie….. En ons bly in ‘n nederige hostel waarin ons in elk geval meer spesiaal en op ons gemak voel as in enige 5-ster hotel!  Dankie Here vir hierdie insig…..


18 Oktober: Santiago de Compostela

I only went out for a walk and finally concluded to stay out till sundown, for going out, I found, was really going in. ~John Muir

Soos die pelgrims Santiago binne-stap, word ou klere, skoene, ens teen die heining gehang..
Die betrokke roete wat ons gestap het, is baie stil en ons het slegs een ander pelgrim op die roete gesien.
Ons sien die eerste keer die Santiago Katedraal!
Alhoewel ons byna geen ander pelgrims teëgekom het nie, is daar honderde ander pelgrims wat by die katedraal -vanaf die Camino Frances, die Camino Portuguese en ander roetes – af aangekom het. Vir die eerste keer in twee maande sien ons so baie ander pelgrims!

Woorde ontbreek vandag… ek is baie emosioneel, dankbaar, geseënd. Gaan dus nie meer sê nie. Net so bietjie geskiedenis oor Santiago:

HISTORY OF SANTIAGO DE COMPOSTELA HISTORY

The origins of the legend of St James’ tomb in this remote Galician region date from between 788AD and 838AD -the exact date has been lost in the mists of time. What is certain is that within a couple of generations it changed what was a sleepy village with cows in the streets into one of the most important pilgrimage sites on earth. In 997 the Muslim leader Al-Mansur, as part of a general ravaging of the Christian north, came to Santiago bent on destruction. The story goes that he found the shrine deserted, except for a single monk who, when asked what he was doing replied that he was praying to St James. Al-Mansur told him to continue praying and withdrew his troops. However, the following day he had the shrine completely destroyed and parts of it, including the bells, taken away and used in the building of the Grand Mosque in Córdoba. But, whether out of respect or fear, he left the relics untouched. Thus destroying a symbol of Christian resistance to Muslim rule, without desecrating sacred Christian relics. The story of the destruction of the Apostolic Shrine spread throughout Christendom. The rich and powerful rallied to the cause and sent money for its reconstruction, while the poor and humble came in person, by whatever means they could. The result was a frenzy of construction in Santiago and all along the Camino Francés, which was to last into the 13th century. The results can be seen to this day, in the many churches and monasteries from that period which are still standing. In 1236, following the recapture of Córdoba by Fernando III, the bells of the cathedral were returned and installed in the rebuilt cathedral, where space had been left for them. And so began a golden age of pilgrimage throughout western Europe. Down the centuries the pilgrims came despite plague and war. Santiago grew and flourished, flushed with the wealth and prestige the pilgrims brought. History was not on its side though, and as the Reconquista pushed south, Spain’s centres of political power followed. Eventually the newly-reunited country established its capital in Madrid in 1561. Then in 1589, fearing a raid by the English privateer Sir Francis Drake, who had landed at A Coruña, the archbishop of Santiago, Juan San Clemente, had the sepulchre containing the relics in the crypt of the cathedral bricked up to keep them safe from the marauding Englishmen. In time the secret hiding place of the relics was lost. The loss of the relics made little difference because the pilgrims still came. In the following century King Felipe IV, a religious man, a patron of the arts, and flush, for a time at least, with the spoils of Spain’s expanding empire, provided the funds necessary for a new programme of construction which began the transformation of the cathedral from its modest Romanesque origins to the magnificent Baroque construction we see today. The fortunes of the Camino ebbed and flowed and with it the fortunes of the city. In 1879, the then Cardinal of Santiago, Payá y Rico, taking advantage of renovation works being carried out on the cathedral, set out to locate the relics. On the night of 28 January 1879 they were found behind a wall behind the main altar. The rest, as they say, is history. During the 20th century the flow of pilgrims continued to arrive, thanks in part to the support of the Francoist regime, which made St James the patron of Spain. Few arrived on foot however, and by the 1970s their numbers had dwindled to fewer than a hundred. Then from the 1970s onward, each new year sees more walking pilgrims, the annual growth is only disturbed by Holy Years, when more than traditionally twice as many make the trek. Although Santiago de Compostela is the capital and ecclesiastical centre of Galicia it is only the 6th largest city coming after Vigo, A Coruña, Ourense, Lugo, Pontevedra and Ferrol. Until 1982 A Coruña was the capital. PLACENAME: Santiago / St James, Compostela from Latin Campus Stellae / field of stars, or composta / established, a reference to the part of the town which lay within the town walls. The site of the city was previously known as Aseconia.

17 Oktober: Ponte Ulla

Galasiërs 5:20

Die vrugte van die Gees, daarenteen, is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Bogenoemde is die tema op my ‘Pray as you go’ toep vanoggend.

“Laat ons deur die Gees gelei word” sê Paulus. Laat ons bid vir ń oopheid en ń gereedheid, ń ontvanklikheid vir die Heilige Gees, sodat ons kan aanvoel en gereed wees om te volg waar Hy ons ookal lei..

Ons is een daggie van Santiago af. Ons stap vroegoggend uit na ń koffie en ontbyt. Dit is koel en mistig en mistiek. En geen reën..Ek stap met ń huppel in my stap vanmôre – die dankbaarheid loop oor – in my hart, my gemoed en my oë. HOE bevoorreg en geseënd is ek en Johan nie. Om vir 6 weke van suid tot noord deur Spanje ….

deur versengende hitte, vrieskoue oggende,

deur dale en oor berge,

deur plat geel landskappe en oor grasgroen berge,

deur dele wat soos ń woestyn lyk en ander water-deurdrenkte dele, vol massiewe groot bome en varings-woude,

deur gehuggies met vervalle murasies wat na beesmis ruik en deur pragdorpe met die mooiste en oudste kerke en katedrale,

oor eeue-oue Romeinse brûe maar ook oor die mees moderne snelweg brûe en treinbrûe en klein rivier bruggies,

oor teerpaaie, stofpaaie, gruispaaie, woudpaadjies, growwerige klippaaie,

deur droë graanlande, deur grasgroen wingerde,

deur olyf plantasies, mielielande, sonnenblomlande, vrugteboorde.

Ons bly in albergues, party mooi, ander nie so mooi, maar ons het elke aand ń warm bed om in te slaap, ń dak oor ons kop, ń stort om ons silwerskoon te was, krane wat ons kan oopdraai en ń keuse van warm of koue water. Ons begeer NIKS meer nie!

Ons stap saam met maer en nie-so maer pelgrims,

vrolike en hartseer pelgrims,

ń pelgrim met slegs 20% sig wat met ń waentjie vasgemaak aan sy heupe stap,

ń pelgrim wat met een korter armpie gebore is en wat sukkel om haar sak op haar rug te sit,

pelgrims wat hul kinders in ń soort pram stoot,

ń ou pelgrim van 86 wat elke oggend, rugsak op die rug, stokke in die hand die pad aandurf..

jong pelgrims van 3 en 5 jaar oud

pelgrims wat vaal en verslete lyk met dieselfde kleertjies aan dag na dag,

pelgrims met so ń kenmerkende reukie aan hul lywe,

pelgrims wie se lywe en voete pyn en seer is

pelgrims met blase, party meer as ander,

ń pelgrim wat sy vrou verloor het 3 dae nadat sy met kanker gediagnoseer is,

pelgrims met hartseer, pynigende ervarings,

pelgrims met mooi en wonderlike herinnerings,

pelgrims met eiesoortige behoeftes en verlange,

MAAR pelgrims met ń lig in hul oë en wye-oop glimlagte en oop gesigte

pelgrims gestroop van alle eiewaan en trots, van besittings en materiële goeters,

pelgrims verenig van oor die hele wêreld, een in liefde – en vrede,

pelgrims wat inherent na dieselfde hunker-om lief te hê en liefgehê te wees,

pelgrims wat glo dat daar vrede kan wees!

En my hart juig en sing. Dankie Liewe Jesus vir hierdie kosbare, pragtige, verrykende ervaring wat ek saam met Johan kon beleef. Dankie vir U pragtige uitspansel, vir mooi, mooi mense, vir liefde, vir genade, vir vrede…

Ons is vanaand in ń pragtige albergue waar ons ons eie kamer EN eie badkamer het (10 Euro pp!)

Ons is lekker vol geëet. Dit reën buite en ons is sommer net…..hoe oneindig geseënd is ons nie 🙏🏻

Met liefde uit die diepte van my hart.

Erma


16 Oktober: Silleda

Ek het baaie koud gekry in die albergue gisteraand, al het ek ń ekstra kombers gehad. Vandag sunmier vir my ‘tights’ gekoop!

Ons het gisteraand een van daai lekker kuier-aande gehad met Melani en Michael van Alaska en Gunther. Michael vang salm en besit sy eie boot. Vir vyf maande van die jaar werk hy vreeslik hard en dan is hy weer ‘af’. Klink my hy doen baie goed, want hy en sy vrou (albei in hul laat dertigs) het al die wêreld platgereis. Hulle maak ń hele nuwe wêreld vir ons oop. Ek dink my broer sal soo geïntereseerd wees! Hy wys ook vir ons die mooiste fotos van gletsers – so te sê op hulle drumpel!! Hulle eet ook meestal net ‘deer’ (verskillende soorte takbokke) en ‘moose’ (my vertaler sê eland maar dis ń ander soort bok maar ook so groot soos ń eland). Hulle bly in ń klein dorpie met die naam van Cordova. Beslis ń ‘bucket list’ plek om te besoek! Hulle vra ook vreeslik uit oor Namibië en beplan ernstig om te kom kuier!! Ek speel lekker met die kleintjies en dit laat my net meer verlang na myne!

So terloops – toe ons vanoggend groet, is Michael nie daar nie. Sy vrou sê toe dat hy gaan draf het (!!!!!!). Wahnsinn soos Jolene sal sé!!

Ons stap deur idilliese mooi plekke vandag. Na gister se baie reën en die ploeg deur water en papnat skoene en lywe, breek vandag aan met geen wolkie in die lug nie en die son wat helder skyn! Ek stuur hierdie boodskap aan my kinders en ander vriende vroeg-oggend:

Ons stap soo lekker. Gister die heel dag reën gehad en deur water geploeter! Vanmôre loop en huil ek. Skoon mooi oop dag na gister. Alles silwerskoon gewas, voëltjies kwetter, vars reuk van nat grond, waterdruppeltjies wat verbete vasklou aan blare, spinnerakke wat blink teen die son. Alles soo mooi – diepe diepe dankbaarheid en ootmoed vir ons Groot Skepper. Vir seëninge onverdiend, genade, liefde, vrede, lig…. 🙏🏻🙏🏻🙏🏻

Kruise en kruise – deur pelgrims oor die loop van baie baie jare aangebring…

Soos op die Camino Frances stap ons ook vandag verby ń heining waar pelgrims honderde kruise gemaak het. Soo ń mooi gesig!

Ek maak ook ń kruisie. Ek is sommer bewoë. Diep en innig dankbaar vir Jesus wat aan die kruis ook vir my gesterf het, vir die wonderwêreld waarin ons woon, vir die voorreg om hierdie ervaring met my man van amper 39 jaar te kan doen… vir genade en seëninge onbeskryflik groot.

Ons kom nou terug na ń heerlike menu del dia ete saam met Gunther. My voete is séér vanaand en ek is MOEG! Ek is baaie dankbaar dat ons 2 nagte in Santiago gaan rus.

Ons het ook vanmiddag ń fisioterapeut besoek en hy het Johan ń behoorlike behandeling gegee. Ons glo sy been gaan nou sommer gou beter raak.

My ogies val toe. Gaan nou lekker warm slaap in my niwe tights!!

Liefde en vrede

Ek het toevallig gister gesien dat as ek iets gecopy en paste het, dan verander die teks se formaat in die finale blog. Jammer daaroor julle! Ek sal dit later regmaak as ek by die huis is. Ek pos gewoonlik net en kyk nooit na die finale produk nie!

Erma


15 Oktober: Castro-Dozón

Of all the paths in the world you take, make sure a few of them are dirt. ~John Muir

Vandag was daar die keuse van twee roetes. ń Linkerkantste een wat effens korter is en ń regterkantste een wat blykbaar die antieke roete is en verby die klooster van Oseira stap. Johan besluit om die korter een te stap en ek die ander een. Dit voel vreemd om altwee te stap, maar nie saam nie, maar dis ook ń goeie tyd vir alleenwees, vir diep denke en vir ingaan op onsself…

Dis ń mistroostige reënerige dag wat neersif sonder ophou. Ek stap kuit-diep deur waterstrome. Ek is papnat tot op die been, nieteenstaande my pragtige poncho wat ek in Rome gekoop het, maar wat meer vir die mooi as vir reênweerings vermoëns bedoel is!! Ek is papnat en koud, maar ek lag oopmond en is soo gelukkig!

Die ervaring van deur die water te stap, laat my terugdink aan een van ons Visrivierstappe. Ons word aanbeveel om twee paar sokkies (verkieslik kort sykouse) en dikker wolsokkies mee te stap. Na elke rivierkruising word daar gestop, die kouse en sokkies en skoene word uitgetrek en aan ons rugsakke vasgemaak. Dan trek ons sandale aan, stap deur die rivier en aan die ander kant spandeer ons 10 minute of langer terwyl ons wag dat ons voete droograak voor ons weer alles aantrek. Hierdie proses is BAIE belangrik om te voorkom dat ons blase kry as gevolg van die wrywing tussen die nat sokkies en ons voete!

STOM is ons verbasing toe ons eendag sit en wag vir ons voete om droog te raak en drie Vrystaters (ń man en vrou en hul tiener dogter) aangestap kom met hul doodgewone tekkies ( géén fancy duur stapstewels nie) en ‘hidden socks’ (Ja REGTIG!) en hulle stap summier deur die rivier en anderkant uit! Ons monde val oop van verbasing! Later, toe ons almal by Ai Ais met ons beseerde voete ‘spog’, trek die Vrystaters hul skoene uit en hul voete is spierwit en sonder letsel, sonder blaas. Ons s’n aan die ander kant, lyk of ons kaalvoete oor die berge geklouter het vir maande!

80% van die roete is op veldpaadjies wat ons altyd verkies, maar vandag is dit nogal redelik uitdagend! Ek kom windverwaaid by Oseira aan en vergaap my aan die majestueuse 1135 se klooster wat vandag nog in gebruik is, welliswaar met net 12 monikke.

Dis ń jammerte dat ons nie daar kan bly nie, maar dit werk net nie só uit hierdie keer nie. Ek staan verstom in die grootsheid en oudsheid van die plek…

Ek is soo bly om vir Johan te sien wat reeds by die albergue opgedaag het en klaar gestort en skoon is!

Die familie met die kleintjies kom so 2 ure na ons hier aan. Hoe hulle dit regkry om in hierdie weer die roetes te stap EN die kleintjies gemotiveerd te hou, gaan my verstand te bowe. Die kinders straal egter en is soo opgewonde oor die nuwe blyplek alke aand. Absoluut merkwaardig!!

Ons maak sommer vir onsself kos in die pragtige groot en skoon albergue vanaand. Vergesel met ń bottel vino tinto!

Vanaand slaap ons soos babatjies!!

Liefde en groete – emmersvol!


14 Oktober: Cea

My ma was so baie in my gedagtes tydens hierdie Camino. Soos my pa by my was tydens my Camino Frances in 2007.

Ek en Johan het ń heerlike luilekker tyd in Ourense gehad. Dis baie snaaks – as ń mens op so ń staproete is, voel mens nie altyd lus om rusdae te neem nie. Dit voel vreemd en amper doelloos om net so rond te hang. Valné vra gereeld of ons inkopies doen, maar daar is nie SPRAKE van soiets nie (géén plek in ons rugsakke) en ook geen begeerte nie! Inkopies beteken: vrugte of broodjies vir die stap, Voltaren Gel vir die voete, nuwe buisie tandepasta of shampoo (wat dan in ons kleiner houers gegooi word en die res word iewers agtergelaat) ens.

Ons lewe soo eenvoudig en ons STRAAL!

Ek sien hoe Johan en die pelgrims wat ek ontmoet al hoe mooier en ‘skoner’ en ‘oper’ raak soos die tyd aanstap. Almal se lywe en voete is seer, maar almal se oë raak blinker en daar skyn liggies in. Mense raak meer vrymoedig en liefdevol. Ons harte word geraak en elke dag, omring met mooi mense van oor die hele wêreld, GLO ons dat ons na mekaar kan uitreik, mekaar kan liefhê en dat daar vrede op aarde kan wees. Ons is almal so dieselfde, ons hunker na dieselfde goed en ons wil net liefhê en liefgehê wees..

Ek stap vroegoggend uit Ourense. Johan se been het hom na Vrydag se stap lekker opgekuil en hy neem ń bus vir die helfte van die pad. Ons kom binne ń paar minute uitmekaar by die dorpie aan waar hy van die bus afklim bymekaar. Die ontmoeting is heuglik!

Dit reën aan en af maar dis net ń ‘drizzle’. Heerlike stapweer in pragtige, pragtige dele.

Strate word vroegoggend skoongespuit

Ons slaap in ń groot albergue in ń kleinerige dorpie. Ons is net 9 pelgrims (waarvan 2 kinders is). Ons ontmoet vir Gunther wat ons so 3 of 4 dae gelede gesien het en is baaie bly! Ons gaan eet saam ń lekker bord kos.

Vanaand is Mike en Melanie, die paartjie van Alaska en hul twee kinders, Leana (5) en Michael (3) ook hier. Ek speel met die kleintjies terwyl mamma gou ń paar ander goed doen. Ek MIS my kleinkinders!

Hierdie paartjie is sooo inspirerend. Hulle stap al van Galisteo af. Vroegoggend is die kinders in ń spesiale ‘stroller’ met fietse, kos ens ens daar ingepak. Dit weeg 75kg en hulle maak beurte om te stoot. Pappa stoot op en Mamma stoot as die pad gelyk of effems afdraand is. Later, as die pad nie te rof of nat is nie, ry die twee kleintjies fiets. Ons stap eendag verby hulle en luister hoe pappa die heelpad met hulle kommunikeer, leer en vrae vra en hoe die kinders lag en sing! Soooo inspirerend en soo mooi!! Kan net dínk wat dit vir die kleintjies moet beteken. En praat van inspirerend – ons ontmoet ń ou Spaanse oom van 86 wat ook die roete stap. Hy stap welliswaar nie 25-30km per dag nie (miskien so 10-12), maar hy stap elke dag!! Hy word soos ń VIP behandel en almal is in verwondering oor die voorbeeld wat hy stel!

En nou val my ogies toe. Lekker slapies almal…

Liefde


Ouma Valerie 14 Oktober

Vandag sou my liefste Mamma 89 jaar oud gewees het! Sy is op 14 Oktober 1929 op Omaruru gebore. Haar naam: Valerie Vanrenen. Sy het my pa op ń ‘blind date’, ń dans – in Windhoek ontmoet. Sy name: Nelis Naudé Dreyer, gebore op Stampriet op 6 Maart 1928. My pa was blykbaar dadelik aangetrokke tot die pragtige sprankelende rooikop met die lekker lag! Die troue het gevolg. Hulle was vir ń kort tydjie in Windhoek, waar Neels en ek gebore is en is toe na Walvisbaai in 1957. René is in 1961 gebore.

My ma het net een sussie gehad – Lindé en my pa het drie broers gehad – Hennie, Fanie en Wicus. Wie en hoe was Valerie of Val, soos haar goeie vriende haar genoem het.

My ma was ń baaaie goeie kok en vir haar was dit die heel lekkerste om mense te onthaal. Van my heel eerste herrineringe is die geur van kos, mense wat kuier en eet en dans ( baaie gereeld en by ons huis). Ons kinders altyd eenkant besig met ons eie speletjies, maar al loerende en baaie nuuskierig wat die grootmense doen. Ook onthou ek die geure van pannekoek, varsgebakte skons, ń lekker bredie met ń lang sous of ń beesstert of ń afval… Neels het hierdie vaardighede by haar geleer (afgekyk) en is tans een van die mense wat die HEEL lekkerste kosmaak wat ek ken! Vir my ma was dit die die grootste plesier en lekkerte om vir Johan te kook. Siestog, my arme man het maar min lekker kos by my gekry en hy kon behóórlik weglê aan my ma se kos!

My ma was ń baie goeie danser en het as jong meisie ń hele paar pryse gewen. Sy was altyd die ‘belle of the ball’ met haar borrelende en ‘stoute’ persoonlikheid en haar lag. Sy het my pa geleer dans en ek sien nog hoe my pa haar in die rondte tol en hoe sy gelag en dit geniet het!! Sy het later ook vir my en Neels geleer dans en Neels is ń uitstekende danser! My ma was ook baie lief vir musiek. Ek onthou hoe die melankoliese stem van Jim Reeves die huis gevul het. Ook operettes en klassieke musiek. Daar was altyd musiek in die huis! In hierdie tyd is my liefde vir klassieke musiek ook gevorm.

My ma het groen, groen vingers gehad – vandat ek kan onthou, het ons altyd die heel mooiste tuin gehad. Sy het weggeraak met ń tuinvurk en grafie in haar hand, knieë op die grond, wyerand hoed op haar kop. Andreas het altyd gehelp – hy was soos ń butler in ons huis en het die huis en tuin met ń yster hand ge-organiseer onder my ma se uiters bekwame hande. Ons tuin was altyd ń blommeprag van kleure en reuke. En daar was altyd blomme in ons huis! Angeliere en rose en dahlias en lelies en soo baie meer, afhangende van watter tyd van die jaar dit was. Toe ons tuin vir haar te klein geword het, het sy die sypaadjie in ń wonderland van plante en blomme verander. Ek dink my ma was altyd op haar heel gelukkigste as sy buite in die natuur was, hetsy om klippies in die woestyn op te tel of om met haar hande in die grond te werk of om met ń visstok langs die see te staan… Haar droom was altyd om ń boervrou te wees!

opMy ma was intens lief vir diere. Daar was altyd ten minste een of twee honde in ons huis. Ons het altyd geterg en gesê hulle is baie beter as ons behandel. Hulle het op die beddens en op die banke in die sitkamer geslaap, hulle het spesiale kos gekry en kon op my ma se karakoeljasse piepie! “Dis wêreldse goed”‘het my ma gesê en die jas met ń klam lappie afgevee! Ons het op ń stadium ń mak meerkat asook ń karakoel lammetjie by ons huis gehad. Merie die meerkat se slaapplek was onder die yskas maar hy het gereeld soggens by een van ons kinders in die bed gespring en dan heerlik warm in ons lies gelê en slaap. Merie het sy terrein deeglik afgemerk met sy stertjie wat so uitpop as hy dit teen tafelpote en banke afvee. Die karakoel het gegril vir die gras en verkies om sy besigheid op die volvloermatte in die huis te doen. Dit het nogal ń redelike spektakel veroorsaak as ons met die twee diere, elk aan ń halsband, gaan stap het. Ons moes ook gereeld vir Merie sprinkane in die park gaan vang en hy het dan so girts, girts die sprinkane in die sakkie opgevreet. Maar die meerkat was ook mal oor sjokolade en avokado’s!! So het my ma ook gereeld kuikentjies en klein voëltjies in die lou oond gehou en uurliks kos uit haar mond gegee en aan die lewe probeer hou.

My ma was ń naaldwerkster per excellence! Sy het die mooiste mooi tapeseries gemaak, sy het borduur, gebrei, gehekel en vir haarself en ons twee dogters die mooiste klere gemaak. Ek het altyd soveel komplimente vir my klere gekry. Ek is universiteit toe met ń tas vol uniek gemaakte klere! Op skool het my ma my al geleer om ook klere te maak en alhoewel sy uiters streng was en géén knoeiery geduld het nie, het sy by my die liefde vir kleremaak geskep. Ek het op 21 my eerste naaimasjien gekry en het al Valné se kleertjies gemaak toe sy nog klein was. Later was daar net nie meer tyd nie. My ma het ook ons kinders aan modeparades laat deelneem toe ons klein was. Ek en René met spierwit A B C (in kleur uitgeborduur op die sakke) rokkies, hand aan hand met gekleurde balonne in die ander hand. Ek oopbek laggend en René al huilende agterna. Ek aangetrek soos Cleopatra en Neels soos ń bokser met ‘blou’ oë en ‘bloed’. Ek dink nie hy was baie ingenome nie maar ek het gestraal! Later jare het my ma en René so saam gehekel en René is uiters goed en het al die mooiste mooi komberse gehekel. Baaaaie daarvan!

My ma het ook in haar jonger dae ń groot belangstelling in porseleinpoppe gehad. Sy het alle inligting wat sy kon kry, versamel en haarself in dié betrokke bedryf instudeer. En dit in ‘n tyd toe die woord Internet nog nie bestaan het nie!! Sy het ALLES self gemaak – die porselein gebak en geverf, die ogies en mondjies ingekleur en al die kleertjies met die fynste fynste detail gemaak. Die poppe was PRAG stukke – elke enkele een van hulle!

Sy was ook ń baaie ywerige seëlversamelaar en was baaie hartseer dat nie een van ons ń belangstelling daarin getoon het nie.

My ma was baaaie lief vir boeke en het baie, baie gelees. Nie net fiksie, maar ń baie wye belanstellingsveld – haar algemene kennis was verstommend en sy kon oor alles praat. As ek en Johan Croatia of Slovenia toe of waar ookal gereis het, kon sy ons oor soo baie dinge in die betrokke plekke inlig. As ek op my Camino gestap het, was ek my ma se grootste aanhanger en aanmoediger…

My ma was baie liberaal vir die tyd waarin ons groot geword het. Sy het my van menstruasie vertel toe ek 9 jaar oud was en die juffrou was baie beindruk toe ek die woord gebruik het toe een van my maatjies haar periode op ń baie jong ouderdom gekry het. Een van baaie min mammas wat in daardie tyd die moed gehad het om soiets met haar kinders te bespreek. Toe ek in Graad 7 was en my ma ons Voortrekker leier was, het sy ń vroulike mediese dokter gekry om met ons groepie blosende, giggelend dogters te kom praat oor seks (JA! En dit in ń tyd waar mammas nie eens oor swanger vrouens kon praat nie!). Toe my ma my broer se belang in die Scope ontdek (onder sy matras gekry!) het sy fotos van vrouens met ń sterretjies op die nippels laat raam en dit in die huis rondgepak. Binne 3 dae is die hele skool se seuns groot-ogig deur ons huis!!! En binne ń paar dae is die rame weer verwyder. Sy het my broer van sigarette voorsien terwyl hy nog op skool was want waar anders kan hy dit dan kry…? Sy het vir my en my sussie elkeen ń deurtrek broekie gekoop toe dit nét in die mode gekom het en saam, saam het ons deur die huis gehardloop geklee in nét dit en ons natgepiepie soos ons lag – my ma inkluis! Nou weet julle waar ek die natpiepie vandaan kry! So kan ek nog baaie voorbeelde noem van hoe oopkop my ma was. Ek het dit altyd gekoester en waardeer. Dit het van my ook ń soort mens gemaak wat sonder veel ‘hang ups’ groot geword het. Dit het ook gegeld oor hoe ons opgevoed is in terme van die mense wat by ons gewerk het. Ons is geleer om mense ‘raak’ te sien en met respek te behandel. Om altyd te groet en vriendelik te wees.

Ek het al oor my ma se liefde vir klippies vertel. Oor hoe ons ure in die woestyn spandeer het om mooi klippe op te tel en hoe sy dit dan ge’tumble’ het.

Ek onthou my ma se goeie vriendinne… tannie Renate, tannie Rina, tannie Annatjie (wat nooit kon ophou spog oor haar kinders nie!) en soveel meer. Ek onthou die tye wat die tannies so saam sit en tee drink (wat ek moes maak) uit pragtige porseleinkoppies en doilies op die suiker en melkhouer. Vir my was dit kosbare tye in die geselskap van die ouer vrouens wat ook daartoe bygedra het om my te vorm..Ek het gekoester en geliefd gevoel – en baie geëerd dat ek toegelaat is om in die geselskap te kan wees.

Ek dink so baie terug aan my ma se lewe en wens soo ek kon haar nog honderde vrae vra. My ma was soo ń vrye gees en ek wonder of sy nie baie keer vasgevang gevoel het in haar rol as vrou en ma nie. In daardie tyd het vrouens nie gaan werk nie en het haar hele lewe jet gedraai om die versorging van haar huisgesin. Ek onthou hoe sy altyd met verlange in haar oë na my ervarings kon luister en hoe intens sy daarin belanggestel. Sy was stom geslaan as ek nie Johan se klere van die stoel af optel en in die kas hang of was nie, dat ek nie sy tas pak as hy op ń besigheidstrip gaan nie, ens. Sy het later jare toe ek al op universiteit was, gaan werk en sy het geblom!!

Ek het soms gevoel my ma stel nie so baie in my belang nie (sy het nooit ń ophef van my gemaak of my gekomplimenteer nie) maar ek het later jare die kosbare geleentheid gehad om met haar daaroor te praat. Sy het in ń huis groot geword waar sy gevoel het AL die aandag gaan na haar jonger sussie – ń uitblinker op alle terreine (akademies, sport en kultuur) en sy is nie werklik raakgesien nie. Sy wou vermy dat diesefde in haar huis gebeur. Ek is so innig dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om beter te verstaan en te weet dat my ma, soos meeste ma’s oor die hele wêreld dinge doen omdat hulle hul kinders liefhet en alhoewel die kinders nie altyd verstaan nie, moet hulle besef dat alles, alles wat ń mamma doen uit liefde en met die beste bedoelings gedoen word.

My ma was baie emosioneel en kon oor alles huil – as ons in die kerk gesing het, as sy na mooi musiek geluister het, oor arm kindertjies en sommer net. Ek het my traankliertjies by my ma geërf. Later jare toe sy en my pa al ouer was, het sy en oupa so saam-saam oor alles gehuil.. Ons familie (mans en vrouens) was nog nooit skaam om ons trane te wys nie. Sy was ook baie vrygewig en het soo baie weggegee – geld. maar ook vele meer.

Ek onthou met soete herinnering hoe my ma met die geldjies van ń polis wat uitbetaal is vir my, René en Megan (saam met my pa) na die hydro op Stellenbosch geneem het. Ek, al giggelende van pure senuwees wat my papnat piepie in die ontvangsarea van die hydro en hoe lekker my ma gelag het. Ek wat haar kos uit haar bord steel omdat ek SO honger was. My pa met ń vadoek oor sy voorarm gedrapeer, skinkbord met water in die hande wat vra: “Wwater – koud of warm, met of sonder suurlemoen?” Hoe ons ná die week in die hydro by die eerste Wimpy wat ons kon kry, gaan sit en alles wat voorkom (en verkeerd was!) verplunder het! Die baie, baie spesiale vakansie wat my pa ons hele gesin na Mauritius geneem het…

My pa was ook ń stoute mannetjie wat maar lief was vir sy Jakkals & Bolf (J&B) en my ma moes soms hard met hom praat en as kind was dit vir baaie moeilik. Nou nog vermy ek konflik en wil ek net graag hê almal moet gelukkig wees en lief wees vir mekaar!

My ma het as jong mens en tot in haar 50’s baie gerook. Om ń sigaret aan te steek, was een van die eerste goed wat sy soggens gedoen het en ek onthou nog die gloed van die sigaret as ek verby hul kamer vroeg soggens gestap het. Dit was ongelukkig ook die ding wat haar dood vervroeg het en sy is ook aan emfiseem oorlede. Sy het later in haar lewe baie, baie swaar gekry met kort asem en kon glad nie vir ons in Windhoek kom kuier nie as gevolg van die hoogte bo seespieël nie. In haar later jare het sy permanent met ń suurtstofmasjien geslaap. Ek kon dit nooit regtig verstaan het tot ek en Johan (en Jolene en Willie) die Kilimanjaro gaan klim het nie. Al snakkend na asem bo-op die berg het ek vir die heel eerste keer ń insig en verstaan gekry in hoe swaar my ma gekry het. Sy het egter altyd haar lot aanvaar – sy was self verantwoordelik en kon niemand anders blameer nie, het sy altyd gesê.

My ma was ń diep kind van God. Vir ure het sy intense Bybelstudie gedoen en haar Bybel was vol penmerke, onderstreepte gedeeltes en aanhalings.

Om ń dogter van Valerie te kon wees was opwindend en interessant en prettig en nooit vervelig nie! Ek was intens trots op haar. Sy was ń baaie betrokke ma en het op al wat ń skool komitee was, gedien. Sy was altyd daar vir my en het my gruwelik bederf met tasse vol lekker goeters as ek na vakansies moes teruggaan universiteit toe. Saam het ons gebad (nog tot voor haar afsterwe) en gelag oor hoe swaartekrag ons liggame verander het, saam het ons gelag dat die trane loop en het ons onsself natgepiepie. Saam het ons gehuil en emosioneel geraak oor die ellendes van mense en diere, saam het ons vir URE oor die telefoon gepraat nadat Naudé al skreuende gebore is en nie tot rus kon kom nie vir maande nie! Sy het my letterlik oor die telefoon daardeur gehelp, gemotiveer en gekalmeer, ek huilende vir dae aaneen!!

My ma kon altyd deur ń ring getrek word. Sy was baie lief vir mooi klere en juwele. Ek was altyd baie baie trots op my ma en ek was vir haar innig lief.

My lewe sou vaal en vervelig gewees het sonder ń mamma soos Valerie. Dankie daarvoor liefste mamma. Mag jou liggie vandag in die Hemel skyn en mag jy wéét hoe verskriklik lief ek vir jou is en jou mis…

Baie baie liefde

Erma

Dankie vir die fotos René en Megan. Die beste sussie en ‘clean sister’ in die hele wêreld!

12 Oktober: Ourense

Kort na ons begin stap het, sien ons eendag in ń Cafebar op tv van die baie reën en geweldige oorstromings wat daar in Ourense in die noordweste van Spanje plaasgevind het. Karre het letterlik in die strate afgespoel en heimlik hoop ons maar net dis alles verby wanneer ons daar kom. Daarna stap ons vir vyf weke, eers in erge warm weer en daarna baie koue toestande maar geen teken van reën nie.

Noudat ons Ourense nader, kry ons vir die eerste keer reën maar nou is dit weer die suide van die land (Mallorca) wat onder erge vloede deurloop waar vyf mense al omgekom het en ń hele paar nog vermis word.
Ons stap reeds die laaste paar dae in die Galicia streek en wel nou in die provinsie van Ourense waarvan Ourense stad die hoofsetel is. Van streke gepraat, Spanje bestaan uit 17 streke wat elk weer uit n aantal provinsies bestaan (die Canary Islands is ook een van die streke.) Die land het n sterk gedesentraliseerde regeringstruktuur en die streke is administratief redelik outonoom.
Ons het begin stap in Andalucia streek, toe deur die droë Extramedura streek, toe deur Castile y Leon en van eergister af is ons in Galicia. Die Spanjaarde is trots op hulle herkoms en sal dadelik vir jou vertel van water area hulle af kom. Die Catalonians (Barcelona se mense) sal ook veel eerder sê hulle van Catalonia as dat hulle Spanjaarde is.
ń Mens ervaar duidelik n ander gevoel soos jy Galicia binnekom met die mees opvallende die groener en bergagtige landskap. Eers kry jy die baie wind turbines teen die berghange – dis oral in Spanje maar veral baie in dié area. Die Spaanse regering het reeds in 2003 met n ambisieuse program vir henubare energie begin en Spanje beskik tans naas die VSA en Duitsland oor die meeste “wind farms”. Die Camino roetemerkers hier lyk ook anders – soos Erma se fotos wys – en dan is daar orals waterdrinkplekke en baie meer rivierstroompies as in die droër suide en sentrale dele.Ook kenmerkend van die ou Galiciese argitektuur is dir baie horreos wat orals te sien is. Dit is strukture wat reeds van die vroegste tye gebou is as graanstore en so ontwerp is om peste uit te hou.
Wat vir ons ook lekker is, is dat mens hier altyd met ń koffie ietsie soos n koekie, tertjie of self croissantjie saamkry. En saam met die cerveza ń bordjie olywe of chips!
Ons geniet koffie en ontbyt in die Casa waar ons geslaap het voor ons begin stap. Gisteraand het ons hier op aanbeveling van Tomas die eienaar/bestuurder/chef/kelner/skoonmaker (ja, hier doen een persoon mos alles!) ń heerlike gebraaide varkribbetjie geëet. Dit was n welkome afwisseling van die lekker maar stereotipese Spaanse geregte.Ons stap vandag hoofsaaklik teerpad wat glad nie lekker is nie. Ons stap aanmekaar deur klein dorpies en drink hier en daar ń koffie. Die meeste bars is egter toe want dis n openbare vakansiedag in Spanje – Columbus Day. Later stap ons lank deur ń vervelige industriële area aan die buitewyke van Ourense voor ons uiteindelik die stad voor ons sien. Ourense is n groot plek en dit vat nog ń hele tyd voor ons by ons Hostal opdaag waar ons vir Philippe ook ń bed vir vanaand bespreek het.
Ek en Erma stap later na die ou deel van die stad en eet ń ligte middagetetjie want ons gaan vanaand met Philippe lekker eet en kuier. Ons sien uit om ons ou Franse pel weer te sien en sy stories oor sy stap van Sevilla na Astorga te hoor.Na ons gebruiklike siesta vat ons ń bus stasie toe om Philippe daar te kry. Dis lekker om weer te ontmoet en ons gaan hom eers inboek en hy ń stort kan vat voordat ons die pad vat om ń lekker eetplek te kry. Dit wemel van al die mense wat almal die geadverteerde menus bestudeer totdat ons ń plek kry wat lekker tapas bedien. Ons “whatsapp call ” vir Eliane, eet en gesels lekker met ń goeie bottel Galician wyn. Dit raak laat en met almal se wiele ń bietjie pap kom ons net voor middernag te ruste.
Saterdag 13 Oktober
Philippe is reeds vyfuur vanoggend op om stasie toe te stap vanwaar hy ń trein na Santiago kry.
Ons staan eers later op, eet die gewone tipe ontbyt in die Albergue en maak gereed om Ourense bietjie te verken. Ons het ń rusdag vandag en sonder enige beplanning dwaal ons maar in die centro van die stad rond. Drink ń koffie by een plek, ń bier by n ander een en sit later aan vir ń ordentlike bord kos. 
Ons het reeds besluit om die res van die dag maar net rustig in ons plekkie deur te bring en reg te maak vir Sondag se stap na Cea. Ons hou maar gereeld die weervoorspellings dop en sien dat dit more gaan reën, maar ons sal hom maar vat soos dit kom.
Groetnis
Johan

12 Oktober: Ouma Hannie

Die laaste paar dae, soos Ouma Hannie en Ouma Valerie se verjaarsdae naderkom, maal my gedagtes in herrineringe aan hierdie twee besondere mense. Die idee ontstaan toe dat ek sommer net as nagedagtenis aan hierdie twee mooi mense, ietsie van hulle wil deel met veral my kinders en kleinkinders.

Johan se ma, Ouma Hannie, is gebore as Johanna Elizabeth de Vries op 12 Oktober 1919. Sy sou vandag 99 jaar oud gewees het. Hulle was 12 kinders (7 dogters, 5 seuns). Sy was getroud met David Andries Muller (gebore 11 Augustus 1914).

Ouma Hannie, wat haar deel van swaarkry, hartseer en pyn gehad het, was ń ongelooflike mooi mens (binne en buite) met ń hart van goud. Sy het altyd net die mooi in ander mense raakgesien en dit ook vir die mense gesê.

Ek het haar nooit hoor kla of kerm nie. Sy het haar man en kinders onvoorwaardelik liefgehad, opgepas, versorg en bedien.

Sy was ń platjie met ń wonderlike sin vir humor. Ek onthou nog SO goed die dag toe ek skelm ń kaalbors vrou op Louis se ‘toplap’ gelaai het en ons die toplap aansit tydens ń Sondagmiddag-ete en dié foto verskyn het. Ouma Hannie het gelag dat haar maag op en af geskud het! Sy het nooit lelik gepraat of gevloek nie, maar o weë – moes haar net nie skrikmaak nie!! Die woorde wat dan uitgekom het, sal ek liefs nie hier noem nie!

Sy was blykbaar ook ń baie goeie sanger en het baie van musiek gehou.

Ouma Hannie het haar kinders vreeslik bederf en opgepiep en ALLES vir hulle gedoen, tot groot frustrasie vir ons skoondogters. As een van hulle net gelyk het of hulle nie lekker voel nie, het ma Hannie aangehardloop gekom met ń pilletjie of ń verband of ń glasie water of ń snytjie vasgebakte brood. Ons het hard en lank gesukkel om ons mans ‘reg’ te kry. Maar helaas… Ons sukkel nog steeds!! 😳

Ouma Hannie was baaie lief en baaie trots op al haar kinders en kleinkinders en het baie graag met hulle gespog.

Belangrikste van alles: Ouma Hannie was ń dienende kind van God en die voorbeeld wat sy aan ons en aan my spesifiek gestel het, sal ek altyd onthou.

Vir my was dit die grootste voorreg om Ouma Hannie se skoondogter te kon wees. Sy was ń móói mens – vriendelik, liefdevol, behulpsaam en nooit veroordelend of negatief oor ander mense nie. As ek my skoonma self kon kies, sou dit verseker Ouma Hannie wees!

Ek is haar ewige dank verskuldig vir die pragtige en kosbare sagte reus wat sy grootgemaak het – my maatjie, my vertroueling, my ‘partner in crime’, my getuie van my lewe, my man – Johan.

Ouma Hannie – hoop jy verjaar lekker in die Hemel vandag en ek hoop jy weet hoe baie lief ons jou gehad het. Jy sal vir altyd in ons harte wees!

NS dankie aan Sakkie wat op baie kort kennisgewing ń paar fotos gestuur het!

Baaie liefde