12 Oktober: Ouma Hannie

Die laaste paar dae, soos Ouma Hannie en Ouma Valerie se verjaarsdae naderkom, maal my gedagtes in herrineringe aan hierdie twee besondere mense. Die idee ontstaan toe dat ek sommer net as nagedagtenis aan hierdie twee mooi mense, ietsie van hulle wil deel met veral my kinders en kleinkinders.

Johan se ma, Ouma Hannie, is gebore as Johanna Elizabeth de Vries op 12 Oktober 1919. Sy sou vandag 99 jaar oud gewees het. Hulle was 12 kinders (7 dogters, 5 seuns). Sy was getroud met David Andries Muller (gebore 11 Augustus 1914).

Ouma Hannie, wat haar deel van swaarkry, hartseer en pyn gehad het, was ń ongelooflike mooi mens (binne en buite) met ń hart van goud. Sy het altyd net die mooi in ander mense raakgesien en dit ook vir die mense gesê.

Ek het haar nooit hoor kla of kerm nie. Sy het haar man en kinders onvoorwaardelik liefgehad, opgepas, versorg en bedien.

Sy was ń platjie met ń wonderlike sin vir humor. Ek onthou nog SO goed die dag toe ek skelm ń kaalbors vrou op Louis se ‘toplap’ gelaai het en ons die toplap aansit tydens ń Sondagmiddag-ete en dié foto verskyn het. Ouma Hannie het gelag dat haar maag op en af geskud het! Sy het nooit lelik gepraat of gevloek nie, maar o weë – moes haar net nie skrikmaak nie!! Die woorde wat dan uitgekom het, sal ek liefs nie hier noem nie!

Sy was blykbaar ook ń baie goeie sanger en het baie van musiek gehou.

Ouma Hannie het haar kinders vreeslik bederf en opgepiep en ALLES vir hulle gedoen, tot groot frustrasie vir ons skoondogters. As een van hulle net gelyk het of hulle nie lekker voel nie, het ma Hannie aangehardloop gekom met ń pilletjie of ń verband of ń glasie water of ń snytjie vasgebakte brood. Ons het hard en lank gesukkel om ons mans ‘reg’ te kry. Maar helaas… Ons sukkel nog steeds!! 😳

Ouma Hannie was baaie lief en baaie trots op al haar kinders en kleinkinders en het baie graag met hulle gespog.

Belangrikste van alles: Ouma Hannie was ń dienende kind van God en die voorbeeld wat sy aan ons en aan my spesifiek gestel het, sal ek altyd onthou.

Vir my was dit die grootste voorreg om Ouma Hannie se skoondogter te kon wees. Sy was ń móói mens – vriendelik, liefdevol, behulpsaam en nooit veroordelend of negatief oor ander mense nie. As ek my skoonma self kon kies, sou dit verseker Ouma Hannie wees!

Ek is haar ewige dank verskuldig vir die pragtige en kosbare sagte reus wat sy grootgemaak het – my maatjie, my vertroueling, my ‘partner in crime’, my getuie van my lewe, my man – Johan.

Ouma Hannie – hoop jy verjaar lekker in die Hemel vandag en ek hoop jy weet hoe baie lief ons jou gehad het. Jy sal vir altyd in ons harte wees!

NS dankie aan Sakkie wat op baie kort kennisgewing ń paar fotos gestuur het!

Baaie liefde


One thought on “12 Oktober: Ouma Hannie

Leave a comment